Diewe van Innerlike Vrede en Geluk

Woorde wat in ons tyd so alledaags soos brood en botter geword het is, depressie, angstigheid, angsaanvalle, woede, woede uitbarstings ens. Minister Joe Phaahla, Minister van Gesondheid het in April 2023 na aanleiding van vrae in die parlement gesê, +/- 6,5 miljoen mense, need care for common mental disorders in South Africa. En wees verseker, ‘n baie groot persentasie van hierdie mense se “mental disorders” is goed soos depressie, angstigheid, angsaanvalle, woede en woede uitbarstings.

As jy na ‘n gemene deler in al hierdie toestande begin soek, gaan die woord, overthinking, telkens uitspring. Ongelukkig is daar nie ‘n goeie Afrikaanse woord vir overthinking nie. Die Afrikaanse woord oordink, sê nie dieselfde nie want in Afrikaans is dit ‘n positiewe woord wat sê, jy behoort elke keuse of besluit wat jy maak, deeglik te oordink.

Die Engelse woord, overthinking, dui in die meeste gevalle nie op iets wat jy oordink om ‘n goeie en sinvolle besluit te neem nie. In nege uit die tien gevalle het dit ‘n negatiewe konnotasie en dui dit op goed wat oor en oor in jou kop afspeel, goed waaroor jy bekommerd is, goed wat dalk kan gebeur. 

Overthinking begin gewoonlik met vrae soos, wat as of sê nou? Die een wat as of sê nou vraag word gewoonlik gevolg deur ‘n volgende een en ‘n volgende een, ens. Kort voor lank is jou kop sif gedink. Dink byvoorbeeld aan vrae soos, wat as ek my werk oor ses maande of oor ‘n jaar of oor twee jaar verloor? En, sê nou ek kry nie gou weer werk nie? Of wat as my man of vrou my dan los of sê nou ons verloor ons huis? 

Hierdie wat as en sê nou vrae wat mekaar repeterend opvolg, lei dan tot mega-negatiwiteit waar jy geen lig in die tonnel sien nie. Sulke overthinking is genoeg om enige iemand nag vir nag te laat wakker lê asook om jou in ‘n afwaartse spiraal te plaas waar jy stadig maar seker in ‘n diep donker gat afsak. 

Ongelukkig funksioneer overthinking in die meeste gevalle nie alleen nie. Sy boetie, of as jy wil, haar sussie, is uitstel – in Engels, procrastination. Wanneer jy begin om besluite en goed wat jy moet doen, uit te stel, lei dit tot skuldgevoelens en verwyte omdat jy byvoorbeeld basiese take in en om die huis nie gedoen het nie of omdat jy nie hard genoeg probeer het nie. En dit lei weer tot overthinking – ‘n bose kringloop wat selde positiewe uitkomste bring.

Overthinking en procrastination vorm ‘n gedugte span wat nie alleen verantwoordelik is vir ‘n baie groot persentasie depressie, angstigheid, angsaanvalle, woede en woede uitbarstings nie, maar wat saam die grootste diewe van innerlike vrede en geluk is. 

WEDSTRYDPLAN (GAME PLAN)

As jy een van die mense is wat overthink en procrastinate, wil ek vir jou ‘n eenvoudige wedstrydplan voorstel wat jou lewe baie makliker kan maak. Dit gaan nie jou depressie, angstigheid of woede heeltemal wegneem nie, maar dit gaan jou help om rustiger te raak en dinge anders aan te pak. Baie van my kliënte getuig hoe hierdie plan hulle gehelp het. Een van hulle, ‘n man van 50+ wat tot tien angsaanvalle per dag gekry het en glad nie sy brein kon afskakel nie, het nadat hy hierdie wedstrydplan vir ‘n paar weke toegepas het, gesê, hy kan nie onthou wanneer laas hy ‘n angsaanval gehad het nie.

Hierdie is ‘n eenvoudige wedstrydplan. Een van die redes waarom baie wedstrydplanne misluk, is omdat dit te moeilik is. Hierdie plan het net drie stappe. Dis bedoel om mense se las te verlig. Jy kan gerus stappe byvoeg wat vir jou werk. 

Stap 1 – Leef 24 uur op ‘n slag

Leer die ritme van 24 uur op ‘n slag aan. Ek is nie seker of daar iets van 24 uur op ‘n slag in ander godsdienste is nie. Miskien vir Moslem en Joodse mense omdat dit terugdateer na Moses en die Israeliete in die woestyn toe hulle net genoeg kos vir een dag moes bymekaarmaak. As hulle meer opgetel het, het dit in elk geval sleg geword.

Vir Christene behoort dit ‘n gegewe te wees. Die Nuwe Testament is vol voorbeelde soos onder andere om jou nie oor môre te bekommer nie want môre bring genoeg bekommernis van sy eie. Die beste voorbeeld vir hierdie soort leefritme is die Onse Vader gebed waar Jesus Sy volgelinge geleer het om te bid vir daaglikse brood, vir vandag se brood, nie vir more s’n of volgende week of volgende maand of volgende jaar s’n nie. Gee ons ons daaglikse brood.

Dit maak nie saak of jy ‘n Christen, Moslem, Jood of enige ander godsdiens aanhang nie. Ek daag jou uit om dit te probeer. Maak dit die ritme van jou lewe. Sit ‘n reminder op jou foon wat jou elke oggend herinner wanneer jy wakker word om te bid of te vra vir geloof vir vandag, krag vir vandag, moed vir vandag. Bid en vra geloof en krag en moed vir die brug wat jy vandag moet oorsteek – jou daaglikse brood. Môre kan jy vir alles vra wat jy gedurende daardie 24 uur gaan nodig hê. As jy nie godsdienstig is nie, word wakker en besluit wat jy gedurende die volgende 24 uur wil bereik en wat jy moet doen om dit te bereik. Fokus dan net op die volgende 24 uur.

As jy iewers gedurende hierdie 24 uur begin overthink, stop jouself. Sê vir jouself, jy het gevra vir vandag. Jy het besluit om op die volgende 24 uur te fokus. Jy sal môre of volgende week aandag gee aan die goed waaroor jy wil vra – wat as of sê nou?

Stap 2 – Wees – positively selfish

Positively selfish – dalk ‘n vreemde term vir jou. Hiermee bedoel ek, wees goed vir jouself. Jy kan nie goed wees vir ander as jy nie in die eerste plek goed is vir jouself nie. Jesus het nie verniet gesê, jy moet jou naaste liefhê soos jouself nie. Het jy al ooit daaraan gedink dat jy nie iemand anders kan liefhê as jy nie jouself lief het nie.

Die sogenaamde goue reël – om ander te behandel soos jy behandel wil word, is deel van baie verskillende godsdienste. Daar is nie een persoon op aarde wat daarvan hou om sleg behandel te word nie. So, begin by jouself. Behandel jouself soos jy graag behandel wil word en dan doen jy dieselfde vir ander. Wees lief vir jouself en dan vir ander, soos vir jouself.

Dis nie verkeerd om positively selfish te wees nie, behalwe as jy dit te ver voer want dan word dit selfsug en ‘n selfsugtig persoon dra gewoonlik niemand anders se belange op die hart behalwe sy/haar eie nie. ‘n Selfsugtige persoon sukkel om aan ander te doen wat hulle verwag vir hulle en aan hulle gedoen moet word. Daarom is dit nie vreemd dat die meeste selfsugtige mense die onheilige drie-eenheid van “me, myself and I” omarm nie. 

Dis nogal merkwaardig hoe mense se koppe draai wanneer hulle besef, ek mag nie net vir myself goed- en lief wees nie, ek moet vir myself goed- en lief wees wees voor ek vir ander kan goed- en lief kan wees.

Stap 3 – Kry ‘n wedstrydplan

Wat is ‘n wedstrydplan sonder oefen? Navorsing wat ‘n paar jaar gelede by die Universiteit van Noordwes gedoen is het gevind dat oefen geweldige voordele inhou vir jou fisiese- en geestesgesondheid. Die studie is gedoen met steekproewe uit drie groepe mense: (i) mense wat glad nie oefen nie, (ii) mense wat matig oefen en (iii) mense wat fanaties oefen. Die interessante bevinding van die navorsing was dat die verskil tussen mense wat glad nie oefen nie en mense wat matig oefen, astronomies was in terme van fisiese- en geestesgesondheid terwyl die verskille tussen mense wat matig oefen en mense wat fanaties oefen in baie gevalle amper nie aanduibaar was nie. Dit beteken, jy hoef net matig te oefen om die vrugte van oefen te pluk in terme van jou fisiese- en geestesgesondheid.

Maak tyd om byvoorbeeld 3-5 maal per week vir 30-45 minute teen ‘n redelike spoed te stap. Maak dit deel van jou lewensritme. As jy sê jy is baie besig, moet dit insluit dat jy op daardie dag 30-45 minute gaan oefen. 

Slotgedagte

As jy met depressie, angstigheid, angsaanvalle, woede, woede uitbarstings en ander geestes-gesondheidsprobleme sukkel – kry hulp. Hierdie gameplan kan en sal jou lewe makliker maak, maar dit gaan nie al jou geestesgesondheidsprobleme laat verdwyn nie. Daar kan baie onderliggende redes vir jou geestestoestand wees, soos onder andere trauma wat jare gelede gebeur het, wat aangespreek moet word. As dit nie aangespreek word nie, raak dit soos ‘n sak klippe wat jy 24/7, 365 dae van die jaar saam met jou dra. Dit gaan jou plat druk. Dit gaan jou “down press”, jou “depressed” maak asook allerhande ander goed met jou laat gebeur. KRY HULP. Kry iemand om jou te help om die klippe in jou rugsak minder te maak. 

(Dr. Piet van Zyl van Hart tot Hart Aanlyn Berading het hierdie artikel geskryf)

Bespreek nou julle “meet and greet” met Dr Piet om te sien of hy die bevestiger is waarna julle opsoek is.

Book your meet and greet now with Dr Piet to see if he is the officiant you are looking for.

Tie The Knot is a Fully Bilingual Marriage Officiating Service.

CONTACT DETAILS
+27 64 007 8684
pjvzyl57@gmail.com
Somerset West, South Africa

©Copyright Tie the Knot – all rights reserved.